Start » Commentaar, polemiek » Wium van Zyl: ‘n Vijftiger uit die Koue Bokkeveld?

Wium van Zyl: ‘n Vijftiger uit die Koue Bokkeveld?

 

Door: Wium van Zyl.
Bron: Tydskrif vir letterkunde (kwartaalblad vir die Afrikaanse Skrywerskring), 38e jrg., 2000, nr. 1-2
Over: Poëzie is kinderspel. 1

Wanneer N.P. van Wyk Louw in die vroeë jare sestig in sy opstel “Werktuig of naelstring?” die behoud van die vakkombinasie Afrikaans en Nederlands in Suid-Afrika verdedig, verwys hy na Lucebert en die Vijftigers as voorbeeld van die verskille of selfs teenpole wat die twee letterkundes met mekaar vorm. Hy sê verder: “…toe Lucebert en sy omringendes besig was om te eksperimenteer met verskillende soorte poësie (surrealisties, primitivisties, bloot-assosiatief, en soms volkome in ‘private’ sinspeling opgesluit) – poësie waarin die logiese element tot ‘n minimum gereduseer is – in dié jare was D.J. Opperman, volkome los van húlle soort eksperiment, besig om ‘n nuwe soort Afrikaanse poësie te maak waarin die logika en die intellek met ‘n virtuositeit en ‘n krag gebruik is soos waarskynlik geen Nederlandse digter vandag meer oor beskik nie” (1963:12).
Dat die twee letterkundes soms so ver kan uiteenloop, is volgens hom nogtans geen argument teen die behoud van die vakkombinasie nie. Vir die gemiddelde student wat slegs ‘n punt wil behaal, kan hierdie “ryke chaos” moontlik slegs verwarring meebring. Maar vir die baie intelligente student gee die twee pole ‘waartussen hy ‘n eindelose reeks oorgange, verwyderinge, kontraste en ooreenstemmings kan bestudeer’.

Nuwe ooreenstemmingsproses

Hoe kort na die groot uiteenlopendheid van omstreeks 1950 tussen Opperman en die Vijftigers daar weer sprake was van ‘n ommekeer tot ten minste gedeeltelike ooreenstemming, besef Van Wyk Louw nie wanneer hy hierdie uitspraak dertien jaar later maak nie. Of – en dit lyk waarskynliker – hy vind dit onnodig vir sy argument om daarop ook in te gaan. Trouens op die moment dat hy sy opstel publiseer, is ‘n nuwe ooreenstemmingsproses as ‘n mens dit so kan noem, reeds min of meer voltooi.
Die literatuurhistorikus J.C. Kannemeyer (1983:267) verwys na die verskeidenheid Opperman-epigone wat in die jare vyftig publiseer met hul “kwatryndreun” en “patroonmatigheid”. Hierteenoor volgens hom vernuwe “die Afrikaanse digkuns onder die invloed van die Nederlandse Vijftigers en die Franse poësie van Eluard en die surrealiste sterker in die rigting van die vrye vers” (1983:462). ‘n Jaar ná Van Wyk Louw se opstel, volg die opspraakwekkende debuutbundel van Breyten Breytenbach,Die ysterkoei moet sweet (1964). Breytenbach is goed op die hoogte van die werk van Vijftigers soos Lucebert en het homself sedertdien al by geleentheid al (‘n persoonlike gesprek) beskryf as Nederlandse Vijftiger. Louw sluit in 1954 by sy bundel Nuwe verse ‘n afdeling getitel “Klipwerk” in. Vir kritici en lesers wat gewoond geraak het aan sy grootse konstruksies en fyn afronding, is dit indertyd ‘n verrassing. “Klipwerk” bestaan uit brokke en flarde volksliedjies, rympies en byna primitiewe stemme uit wat die skrywer later sou aanwys as die wêreld van sy jeug, die Roggeveidse Karoo (1970:44). Hy het nogtans daarop gestaan dat dit ‘n eenheid vorm en het by uitsondering toegestaan dat bloemlesers van die afsonderlike verse opneem.
In sy genoemde opstel, verwys hy na sy antwoord op vrae wat omstreeks 1955 in Nederland aan hom gestel is of Afrikaans óók eksperimentele digkuns sou hê: “My antwoord was dan: ‘Ons hét; maar óns soort eksperiment met poësie sal nie in die kafee of kunstenaarkroegie alleen kan plaasvind nie; dit sal ook met die ashoop, die vuurtjie op die werf, die oesland, die volk se dans, toor en godsvrees te doen hê'” (1963:12).
Met ander woorde: daardie eksperiment is reeds in my “Klipwerk” onderneem!
In 1954 stuur Louw ‘n eksemplaar van Nuwe verse aan sy vriend Izak van der Merwe wat onder die naam Boerneef op dié stadium groot bekendheid geniet as skrywer van sketse en kortverhale, onder meer oor dieselfde soort jeugwêreld. In sy bedankingsbrief reageer Boerneef met ‘n enkele kortaf opmerking oor “Klipwerk”: “Van die afdeling Klipwerk hou ek niks”. 2 Slegs twee jaar later publiseer Boerneef egter sy eie, verwante “Namakwalandse rympies” in sy laaste prosabundel, Teen die helling(1956). En nog twee jaar later volg sy eerste volwaardige bundel Krokos (1958)! Boerneef se reaksie wek verskillende vrae: het hy hom moontlik vererg omdat Louw hom voorgespring het, was hy miskien nie tevrede met wat Louw van dié soort poësie gemaak het nie óf het hy binne ‘n kort tydjie daarna radikaal van mening verander?
Dit lyk vir my nie onwaarskynlik nie dat Boerneef die verwantskap tussen Louw se reeks en die Nederlandse Vijftigers gesnap het. Hy het die Nederlandse poësie goed geken en daaroor klasgegee (Kannemeyer 1986:165). Hy het Roland Holst en Slauerhof persoonlik geken. In sy voorafgaande prosabundels is Frederik van Eeden, Hendrik Marsman en Roland Holst deel van sy verwysingsveld (Kannemeyer 1983:18).

Worsteling met vernuwing

Dit lyk eerder asof sy probleme met “Klipwerk” saamval met ‘n worsteling om die vernuwing van die Vijftigers en hul opstand teen sy geliefde Nederlandse digters te aanvaar. Hy is immers op daardie stadium ‘n neerlandikus sewe jaar voordat hy met pensioen sal gaan! Bowendien beweeg hy in ‘n kring literatore wat soos selde in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis op die hoogte was van ontwikkelinge in die Nederlandse letterkunde. As direkte kollega en vriend het hy D.J. Opperman, iemand wat nougeset sorg dat die publikasies van die Nederlandse Vijftigers vir die universiteitsbiblioteek aangekoop word (Kannemeyer 1986:166). Hy is ook bevriend met die Nederlandse digter Jan Greshoff, die persoon wat onder meer die Jacques Perk van die Vijftigers, Hans Lodeizen, gehelp het om te begin publiseer. Nog ‘n vriend van hom is die Nederlander Dirk Bax, professor in Nederlandse Kultuurgeskiedenis.
Teen die helling skryf hy nog slegs enkele prosastukke waarvan één inderdaad in die opsig ‘n brugteks vorm: “Kortverhaal” wat in 1958 in Standpunte verskyn (1 979:503-506). Dit begin só:

“Op hierdie troostelose Sondagmôre – baie vroeg – sit die ou man by sy skryftafel en lees atonale verse. By herhaling. ‘n Mens moet op die hoogte bly, en aan goeie wil en toewyding ontbreek dit hom nie. Dus lees en herlees aan verse wat volgens die mening van ‘n kenner waarskynhik nie vir uitleg vatbaar is nie, maar wat, hoe dan ook, tog vir die een of ander ding vatbaar moet wees”.

Hy haal dan ‘n voorbeeld aan van so ‘n vers in Afrikaans:

My gesplete hoef is by na my
arm
demi
splyt
spleet
skeet
Sinkranknigheid eotiekr poppewaan. Urg.

So ‘n gedig in die werk van ‘n ander skrywer is my nie bekend nie en ek meen dit moet beskou word as ‘n eie parodiërende poging om self ‘n “atonale” gedig te skryf. “Atonaal” is kennelik ‘n verwysing na die vroeë Vijftiger-bloemlesing Atonaal wat deur Simon Vinkenoog saamgestel is en in 1951 verskyn het. Die jeugdige Vinkenoog skryf inderdaad: “Deze nieuwe poëzie is waarschijnlijk niet voor uitleg vatbaar, dit in tegenstelling tot de poëzie der generaties die deze dichters voorafgingen; elke psychologische, psycho-analytische of philologische verklaring zal op een gegeven moment haar onmacht moeten bekennen”. En verder: “Een veel misbruikte woord kan niet uitblijven: wij leven in de chaos, als men wil: de zinloosheid. En als verscheidenen van dezer gedichten zinloos of chaotisch mogen schijnen, dan is dat niets anders dan een gevolg van de hierboven geschetste ontwikkeling en is het ons niet toegestaan de nieuwe dichtkunst daar een verwijt van te maken, zelfs als het vers van de nieuwe generatie een verbeten, pregnante toon heeft die het een a-poëtisch aanschijn verleent.” Hy wys ook op dadaïsme en surrealisme as voorlopers op hul lewenshouding.
In Boerneef se “Kortverhaal” word hierdie laaste uitsprake nie genoem nie, maar dit lê wel in die reaksie opgesluit. Die ou man, Ou Faan, onderneem na die lesery in desperaatheid ‘n wandeling in die Kaapse Suidoos. Aan die atonaliteit kan hy egter nie ontsnap nie. “Dis ‘n geharrewar van betekenlose en sotte woorde en frases en sinne wat deur my kop maal”, besef hy. Nâ die wandeling pak ou Faan sy Bybel. “Hy is geen gereelde kerkganger nie en geen ortodokse gelowige nie, maar in die Bybel lees hy dikwels”. Onder meer die Bybelvers ‘Een handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite en gejaag na wind” bring hom tot berusting en tot die besef dat die atonales maar ‘atonales van toet” is, dat hulle dus in alle tye bestaan en geen nuwe probleem is nie.
Dit gaan hier dus om ‘n worsteling om dié soort letterkunde in perspektief te plaas. Die teks kom self egter ná daaraan om ‘n parodie te vorm op die begrip kortverhaal. ‘n Mens moet hierby nie vergeet dat Afrikaanse kritici in die tyd nog dink in terme van die “eise” waaraan ‘n kortverhaal moet voldoen nie. ‘n Mens kan dit byvoorbeeld assosieer met Lucebert se gedig “sonnet”, hoewel dit nie heeltemal so ver gaan as parodie nie. 3
Later in dieselfde jaar verskyn die eerste egte Boerneef-poësiebundel, Krokos (1958). In watter mate hy op daardie stadium vrede gemaak het met die atonales, is af te lei uit die mededeling van L.W. Hiemstra, naamlik: “Onder die resensies van Krokos het hy groot waarde geheg aan dié van Nancy Baines wat hom (…) ‘n surrealis genoem het” (Boerneef 1977).
In die Afrikaanse kritiek is ‘n ooreenkoms tussen Boerneef se poësie en die van die Vijftigers verskeie male aangeroer. B.A.J. van der Merwe (1982:136-1654) gaan na aanleiding hiervan in op die kwessie. Hierdie besprekings bly egter in ‘n ernstige mate steek in die aanwys van betreklik algemene eienskappe sonder dat dit tot ‘n werklike vergelyking kom. Stel ‘n mens Boerneef se poësie teenoor spesifieke elemente wat indertyd deur kritici en sommige Vijftigers self uitgewys is as kenmerkend van die vernuwing, lewer dit egter inderdaad merkwaardige resultate. ‘n Mens moet wel ter korreksie daaraan toevoeg dat hierdie elemente nie in afsondering nie, maar juis in hul kombinasie gesien moet word.

Kunsgrepe

Die kritikus wat die direkste op tegniese kunsgrepe afgaan, is R.A. Cornets de Groot in sy inleiding tot sy Lucebert-bloemlesing Poëzie is kinderspel (1968). Sy bloemlesing rig hy op skoolleerlinge en hy wys ‘n agtiental “spelregels” aan.
Die eerste handel oor interpunksie en wat hy uitwys, is direk van toepassing op Boerneef: dit “Komt bij Lucebert vrijwel niet voor, een enkele uitzondering daargelaten” (1968:23). Dit is trouens ook ‘n opvallende verskil tussen Boerneef se sestal “Namakwalandse rympies” wat hy in 1956 insluit by die prosabundel Teen die helling en die gedigte in Krokos twee jaar later. Die “Namakwalandse rympies” bestaan uit keurig gepunktueerde sinne en die gedigte in Krokos heeltemal nie. Uit Cornets de Groot se verdere bespreking blyk dat Lucebert in die gevalle waar hy dit wel gebruik, aan punktuasie ‘n spesiale funksie gee. Lucebert gebruik wel dubbelpunte en vind vraagtekens en uitroeptekens en in ‘n beperkte aantal gevalle ook aanhalingstekens kennelik soms noodsaaklik. By Boerneef ontbreek die dubbelpunte en aanhalingstekens, iets wat trouens bydra tot leserprobleme wanneer hy in ‘n gedig sy sprekers verwissel. Uitroeptekens en vraagtekens word spaarsamig gebruik. Vir ‘n punt in ‘n Boerneefgedig moes die leser wag tot sy vierde bundel, Pallisandryne in 1964. In hierdie gedig met die beginreël “Ek wag dat jy moet oorskakel van geel na rooi” word gekla “die hele wêreld dig mos nou meertalig strooi”. Die gefrustreerde spreker vind homself dan maar ouderwets en assosieer homself met osrieme wat in die breiproses opgewen word. Die rieme is bowendien onnodig, want “daar is nie meer osse nie”. Hyself en sy digwerk is by implikasie net so onnodig. Dit beëindig hy met die woord “punt” in ‘n voorlaaste reël en in die laaste reël dan ook nog die punktuasieteken “.”:

maar daar is nie meer osse nie
punt
.

(Palissandryne, 33)

Dit word die enigste punt in sy poësie vanaf Krokos. Boerneef gaan dus nog verder as Lucebert om punktuasie tot ‘n uiterste te aktiveer.
Cornets de Groot wys vervolgens daarop dat Lucebert selde hoofletters gebruik en illustreer hoe hy deur omskakeling van groot na klein die leser opmerksaam maak op die letterlike betekenis van die klanke (1968:24). Dit lê in die aard van Boerneef se poësie dat dit ‘n groot aantal eiename en plekname bevat waarvoor hy byna deurgaans wel hoofletters gebruik. Meesal het die aanvangswoord ook ‘n hoofletter. Andersins is die ontbreking van hoofletters ‘n opvallende kenmerk en daar is hele gedigte daarsonder. Net soos Lucebert word hoofletters by hom dan juis soms ingespan om hele woorde sterk te beklemtoon. Lucebert skryf byvoorbeeld die lidwoord “de” met hoofletters om die intensiteit van “DE Pijn” te help beklemtoon in die gedig “Bed in mijn hand” (1974:50). Boerneef wil in die gedig “Jy sit vas innie willesand” benadruk watter “swaarstelwoorde goed onbekendste hartseerste en neddie aller-/ swaarste/ alleromgeëllieste allerbakgatste allerbebaardste” noodsaaklik is om ‘n span osse deur te dryf. Dié woorde is nodig om:

te
PRAAT
sosit
HOORT

(Op die flottina, 10)

“PRAAT” en “HOORT” word nâ die opstapeling en herhaling ook nog met hoofletters geskryf. 4

Spelling

Nog ‘n “spelregel” by Lucebert het letterlik met die spelling van woorde te make. Volgens Cornets de Groot “persifleert” hy die juiste spelling. En verder: “De ingreep in de spelling draagt wezenlijk bij tot begrip van de dichterlijke bedoeling. Fonetiese spelling en naïeve spelfouten vormen de keerzijde en suggereren volkse eenvoud of onschuld of gemaniereerde affektasie” (1968: 25, 26). ‘n Raker definisie van een van die belangrike kenmerke by Bóérneef kan ‘n mens moeilik gee. Daar hoef maar verwys te word na die spelling “Sedoos” vir die Kaapse Suidooste-wind en “Seressekaro” vir Ceres se Karoo waardeur allereers die oorkoepelende Boerneef-spreker en daarnaas ook sy groot aantal volkse sprekers se beskeidenheid, maar soms ook aggressiewe en selfs anargistiese distansie van die heersende orde en standaardtaal afgebaken word. Boerneef gebruik hierdie kunsgreep veel meer konsekwent as Lucebert.
Hiernaas gebruik Lucebert onder meer onverwagte woord- en letteropeenhopinge. Woordopeenhopinge is by Boerneef eweneens volop en kenmerkend hoewel dit nie sulke oënskynlik onsamehangende kombinasies bevat as wat Lucebert soms aanbied nie. Vergelyk by Boerneef byvoorbeeld die opstapeling om die arbeidsritme en aktiwiteit uitte druk in die gedig “Die dorsmasjien staan en dreun langs Boplaas se mied” (Krokos, 74): “miedman voerman sakman kafman/ braaktyd ploegtyd oestyd dorstyd”. Met laasgenoemde vier woorde word die aktiwiteit verbreed om ook die voorafgaande arbeidsfases in te sluit.
Woord- en letteropeenhoping val by Boerneef dikwels saam met fonetiese spelling en die neiging om woorde aaneen te skryf sodat ‘n vloeiende, klinkende geheel ontstaan soos in “sondagsensederhoutkisklere (“Die handvol vere die handvol vere”, Krokos, 80). Cornets de Groot wys in die opsig onder meer daarop hoe Lucebert in sy gedig “vrolijk babylon waarin ik” (1974: 428) die naam Niagara Falls foneties weergee as “naaiekkere folis” waardeur dit vir die leser moontlik gemaak word om dit ook met seks te verbind (1968:27). Iets van dieselfde aard vind ons in Boerneefse woordgedig “Jou woord jou woord jou dessit woord” (Palissandryne, 70) waar die spreker hom ten slotte afvra wie op aarde met woorde omgaan soos dit hoort. In plaas van “soos dit hoort” gebruik hy egter die dialektiese “sosit bewoort”. Die vervanging van die “h” in die laaste woord met “w”, maak dit al opnuut weer toepaslik op die woord-tema.
Cornets de Groot wys ook wat hy noem “lettermagie” aan waaronder onomatopeeë deur letterverwisseling (1968:28). Lucebert se “Horror rorror razer raar” uit die gedig “Horror” (1974:41) kan ‘n mens in die verband plaas naas o.m. Boerneef se reël “voël viet fisant” in die doprym “Aghoes aghas vaal water wegblaas” (Krokos, 55).

Beeldspraak

Die “spelregels” wat beeldspraak betref, is op die oog af nie met Boerneef te verbind nie. Cornets de Groot verwys na “beeldversmelting door hevige emotie”, metaforisme waar “de verst van elkaar verwijderde begrippen” met mekaar verbind word, metonimie en “identiteitsformule” (1968:30). Sy uitleg raak hier trouens nog onhelder. Die beeldversmelting kom soms deur assosiasies tot stand en soms weer deur visuele waarneming. Boerneef se beeldgebruik is hierteenoor naamlik taamlik tradisioneel. En tog, as ‘n mens by dié soort gedig kom waaroor kritici soos Hiemstra (sy inleiding by die Versamelde poësie) sê “dat ons daarmee vir lief moet neem om Iank nie alles te verstaan wat hy gesê het of wou sê nie”, lê die Ieesprobleme myns insiens juis in die gebruik van onder andere die assosiatiewe soort beeldgebruik wat ‘n mens by Lucebert en ook ander Vijftigers aantref. Rodenko (1954:10-11) het indertyd verwys na “de verzelfstandiging van het beeld” deurdat dit sy oordragtelike verband kwytraak, maar “toch nog een suggestieve functie” behou. In vroeëre ondersoek is al aangewys dat die volgende gedig ontspring uit ‘n ou, vandag haas onbekende, volksliedjie (Van Zyl 1975:34-35):

Die swartes loop en pronk
die vosse die ene vonk
Katrinahardestang ag nee
al weer in morriesburg se tronk
maar Daiel vuurbek met die latjiesbeen
josopjollie josopjollie
losklosskollie ligvoetskollie
spoeg met ‘n boog
aksenawel en hoog
toen die nok van die roei rondaweldoeliedollie

(Krokos, 30)

Die samestelling “rondaweldoeliedollie” is tipies van die soort woorde by Boerneef wat in die verlede verklaar is as sou dit slegs ‘n klankfunksie hê (vgl. o.m. Van der Merwe 1981:17). ‘n Mens sou dit egter ook kon lees as assosiasie wat begin by die akkuraatheid (“aksenawel”) waarmee die uitgelate en vrye Daiel vuurbek spoeg. Hy spoeg teen die nok van die “rondawel” wat geassosieer word met ‘n doelbord soos wat by skyfskiet en pyltjiesgooi gebruik word. Die woord “doel” is egter hier reeds klankmatig besig om oor te gaan tot die volgende assosiasie en word “doelie” voordat ons uitkom by “dollie”, die dobber wat hengelaars gebruik en inderdaad na die bokant van ‘n rondawel lyk. Net soos by die Vijftigers is ‘n kunsgreep van die veel vroeëre Paul van Ostaijen hier eweneens te herken.
Daar is tientalle van hierdie voorbeelde by Boerneef aan te wys wat uit ‘n Vijftiger-perspektief opnuutindringend gelees kan word.

Herhaling

‘n Volgende stel “spelregels” wat Cornets de Groot aandui, het te make met die verskeidenheid vorme van herhaling wat Lucebert gebruik (1968: 33-35). Hieronder tel die anafoor, die herhaling van die beginwoord in meerdere op mekaar volgende verse soos in sy “Waar ben ik”, bv. “Wie verneemt mij! Wie neemt mij mee/ Wie overhoort mij! Wie heeft mijn oren”, ens. Nog ‘n vorm is stereotipie, die voortdurende herhaling van woorde of sinne. Ook by Boerneef is – vir sy tyd – onkonvensionele herhaling ‘n belangrike stylkenmerk. 5 Beide genoemde tegnieke van Lucebert is terug te vind in Boerneef se “As dit reën in die Kaap”:

As dit reën in die Kaap
as dit suidoos op die mark
as die mal mense maal in die môre
en smiddags en saans
dan dink ek aan Hendrik Vuurdassie
en sy o dee dee dee, ens.

(Krokos, 5)

En nog meer in sy (m.i. helaas minder geslaagde) “dilemma?” waar nog ‘n tipiese Lucebert-herhaling bykom – die epifoor (die laaste woord van ‘n vers is ook die slot van die volgende verse):

Dilemma?

son en reën
son en reën
son en reën
soms net son
soms net son
soms net son
soms net reën
soms net reën
soms net reën
soms glad niks
soms glad niks
soms glad niks
net ek
net ek
net ek
ekekekek
ooooooo
o
o
ooooooo
ohessie

(Mallemole, 70)

Nog ‘n Lucebert-tegniek wat ons eweneens by Boerneef teëkom, is die gebruik van sitate as bou-elemente, iets wat ons in ons hedendaagse poësie natuurlik ook maar alte goed ken (1968:36-38).
Cornets de Groot verwys onder meer na die gebruik van die negentiende eeuse reël van Ter Haar, “de Vrede graast de Kudde voor” in die anti-Kloos-gedig “het orakel van monte carlo”. Hier het dit ‘n ironiserende funksie. ‘n Boerneef-voorbeeld vind ‘n mens reeds in die openingsgedig van Krokos (die mate van ironie wat ongetwyfeld in die Nederlandse Bybelsitaat – uit Jes. 53:7 – opgesluit lê, is ‘n bron vir heelwat interpretasieverskille) en daarna in nog vele ander gedigte:

Dis Blesman en Sandveld en Faan
in die skurfte van Swartrug se berg
en die weer is wreed en die wind sny diep
en die moftrop stom verkluim en stom
maar nie voor het aangezicht zijner scheerders nie

(Krokos, 1)

Cornets de Groot verwys verder na die eiesoortige hantering van verbindinge wat onder meer bereik word deur die vermyding van interpunksie en wat verskillende leesmoontlikhede skep. Boerneef skep eweneens soms vergelykbare probleme wanneer hy meer as een spreker in ‘n gedig aan die woord stel sonder dat die leser deur interpunksie gewaarsku word.

Neologismes

‘n Ander “spelregel” by Lucebert wat uiters toepaslik is op Boerneef se poësie is die skepping van verskillende soorte neologismes. Cornets de Groot voeg by: “Bij de taalschepping zijn rijm, alliterasie etc. óf hun tegenstellingen vaak van primair belang; betekenis komt op de tweede plaats, of speelt vrijwel helemaal geen rol tot nader order” (1968:40). Een van die kenmerkendste kunsgrepe van Boerneef is eweneens die maak van klinkende eie samestellings en partymaal ook eie woorde waaraan die leser met moeite ‘n betekenis kan toeken. ‘n Mens kan hierby trouens in gedagte hou dat die Afrikaanse Vijftiger-gedig wat hy in sy “Kortverhaal” weergee, reeds nie-bestaande woorde bevat soos “Sinkranknigheid eotiekr poppewaan. Urg.” By hierdie soort woorde kom hy pas weer uit in sy voorlaaste gedig in sy laaste eie bundel Op die flottina (1967). Die gedig, “Nou skryf ek malkopwoorde” sluit met ‘n nie-woord: “nisduidegipswt”, die soort samestelling wat ‘n mens natuurlik ook teenkom in Peter Blum se “Man wat mal word” (1958). Maar reeds in Krokos laat hy volkse karakters neologistiese woorde in ‘n vrolike klankspel uitroep soos Hennerik Vuurdassie in die eerder genoemde “As dit reën in die Kaap” met “kalanttamtammer” en “koekmakrankkomkommer” of ‘n ongenoemde spreker in “Praat van die ding” (Krokos, 27): “kattarangghangghing”! Hier word kennelik teruggegryp op die nagenoeg primitiewe soort neologismes van skaapwagters en ander beswaarlik geletterdes uit sy Bokkeveldse jeugwêreld.
Cornets de Groot (1968:41) illustreer hoe Lucebert in “bed in mijn hand” (1974:50) die neologisme “drof” gebruik wat volgens hom heeltemal geen betekenis het nie, maar as gevolg van die verband waarin dit staan met die woord “pijn” die suggestie dra van “droef”. Hierdie soort neologisme kry dus pas betekenis danksy die verband met ander woorde wat soms selfs ver daarvandaan staan. ‘n Onbewuste illustrasie daarvan by Boerneef lewer F.l.J. van Rensburg (1982:443) met sy interpretasie van die woord “Tromboniusdagboekenkaart” in die gedig “Lank gelede het hy daarmee begin” (Op die flottina, 94). Hy wys nI. assosiasies aan uit ‘n verskeidenheid terreine insluitend die Griekse mitologie en Opperman se poësie. Trouens Boerneef se bundeltitel Palissandryne, ‘n woord waarmee hy sy gedigte vervolgens karakteriseer, is van dieselfde aard. Kritici het al gewys op die assosiasie met “aleksandryne” en “kwatryne” (Van der Merwe 1981:29) terwyl hyself in sy poësie verwys na spel op ‘n “blokfluit van palissanderhout” (Palissandryne, 1).
‘n Laaste kunsgreep wat Cornets de Groot aanwys, is Lucebert se letterspel. Onder meer sluit dit gevalle in waar ‘n woord ‘n latere woord determineer soos in die reël “een blinkende zeeëngte zingende” in die gedig “de daden van de zwijzame” (1974:126). Die keuse van “zeeëngte” determineer die woord “zingende”, of miskien selfs andersom. Nog verder gevoerde voorbeelde van hierdie soort letterspel kom ‘n mens onder meer teen by Boerneef se gedigte wat gebaseer is op snelsêers in die mondelinge tradisie. Vergelyk maar “Die skunnige skinnery van die skinneraars darem” (Palissandryne, 29)

Besluit

Hierdie ooreenkomste tussen ten minste ‘n aantal van Boerneef se kunsgrepe en dié van ‘n Vijftiger soos Lucebert is te veel om toevallig te wees, veral omdat dit in beide gevalle in ‘n groot mate normdeurbrekend was. Uit hierdie oogpunt kan ‘n mens aan die oënskynlik onsinnige, maar duidelik poëtikale verwysing na Amsterdam in die volgende gedig dan wel betekenis toeken, naamlik dat hy dig in die buurt kom van die Amsterdamse Vijftigers, maar tog ook weer nie:

My palissandryn is ‘n palimpses
(vir wat roep jy so boontoe
ek weet ek maak die goed mos self)
al is hy nie klassiek nie
ook nie van perkament nie
my palissandryn is ‘n palimpses
krap uit en dood perbeer dan weer
dis amper maar nog ver van Amsterdam
verdomp hoe kry ‘n mens dit pastersteek
met so ‘n weerstrewige palimpses

(Palissandryne, 1)

Eienskappe van Boerneef se poësie wat verbindbaar is met dié van die Vijftigers hou nie op by die gebruik van dieselfde kunsgrepe as Lucebert nie. Selfs sy handhawing van die skuilnaam Boerneef, waardeur die skrywer homself o.m. karakteriseer as eenvoudige, nie-geleerde, sowel as die volgehoue aan die woord stel van ander eenvoudiges, sluit aan by wat Kouwenaar in sy inleiding tot die bloemlesing Vijf Vijftigers (1955:11) as een van die eksperimenteles se “meest typerende kenmerken” noem. Dit is “hun typisch anti-intellectualistische instelling, hun verzet tegen de dictatuur van het abstracte denken”, ens.
Moet ‘n mens Boerneef dus tot Nederlandse Vijftiger verklaar? Wat hierbo aangewys is, verhelder op sy minste waarom hy met sy poësiedebuut op 61-jarige ouderdom opeen so ‘n moderne indruk gemaak het in 1958 en nog lank daarna. Hy het daarin geslaag om in een klap die polarisasie tussen die Afrikaanse en Nederlandse poësie waarvan Van Wyk Louw gepraat het, te deurbreek. Máár hy het terselfdertyd ‘n nuwe polariteit geskep deur dit te heg aan elemente in die Afrikaanse kultuur wat oënskynlik die grootste afstand met Europa vertoon, naamlik die orale tradisie. Daarom het dit eerder ‘n oer-Afrikaanse as ‘n Nederlandse indruk gemaak.
Bowendien verskil die sosiaal-kulturele konteks nagenoeg radikaal. Anders as by die Vijftigers is daar nêrens in Boerneefwerklik heftige opstand teen die bestaande literêre tradisie of maatskaplike norme nie. Hoogstens kry die opstandige jeugdiges van tyd tot tyd ‘n spreekbeurt in sy latere poësie soos die ‘raasbekskorrieenmorriesnare” in die gedig “Varkleerbaadjie en klinknaelbroek” (Mallemole, 35).
‘n Mens kan die digter uit die Koue Bokkeveld dus nie sonder meer ‘n Vijftiger noem nie. Wat wel duidelik blyk, is dat die Nederlandse letterkunde by tye ook letterlik werktuig was vir selfs die oënskynlik mees lokaal-gerigte Afrikaanse skrywers, dat die neerlandistiek dus noodsaaklik kan wees om belangrike verskynsels in die Afrikaanse letterkunde te begryp. En dat neerlandici uit Nederland, Vlaandere of elders wat die volle konsekwensies van hul taal en letterkunde wil probeer bepaal, eweneens kortsigtig sal wees as hulle Afrikaans en sy literêre produkte ignoreer. Die “eindelose reeks oorgange, verwyderinge, kontraste en ooreenstemmings” bied steeds “‘n ryke chaos”.

Bronnelys

Boerneef. 1956. Teen die helling. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
1958. Krokos. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
1959. Ghaap en kambro. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
1962. Mallemole. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
1964. Palissandryne. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
1967. Op die flottina. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
1977. Versamelde poësie. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
1978. Versamelde prosa. Kaapstad: Tafelberg.
Cornets de Groot, R.A. 1968. ‘Aan de leraar’, in: Lucebert, Poëzie is kinderspel. Den Haag: Bert Bakker/Daamen N.V.
Hiemstra, L.W. 1968. Die man wat woorde gemaak het, Lantern jg. XVII (3)
Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur II. Pretoria/Kaapstad: Academica.
1986. D.J. Opperman, ‘n biografie. Kaapstad/Pretoria: Human & Rousseau.
Kouwenaar, G. 1955. Vijf Vijftigers. Amsterdam: De Bezige Bij.
Krige, Uys. 1985. Versamelde Gedigte. Kaapstad/Pretoria/Johannesburg: J.L. van Schaik! Human & Rousseau/Perskor.
Lategan, F.V. 1954. Die kortverhaal en sy ontwikkeling in Afrikaans. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Louw, N.P. van Wyk. 1954. Nuwe verse. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
1963, “Werktuig of naelstring” in: Standpunte 49, jg XVII:1
1970. Rondom eie werk. Kaapstad: Tafelberg.
Lucebert, 1974. Verzamelde gedichten. Amsterdam: De Bezige Bij.
Rodenko, P. 1954. Nieuwe griffels schone leien. Den Haag: Bert Bakker/Daamen N.V.
Van der Merwe, B.A.J. 1982. Boerneef se verskuns, ‘n ontleding en waardering met besondere verwysing na ‘Op die flottina’ en ‘Sesde Hoepel’, ongepubliseerde MA-skripsie. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.
Van der Merwe, C.N. 1981. Tromboniusdagboekenkaart. Kaapstad: Tafelberg.
Van Rensburg, F.l.J. 1982. Boerneef in: P.J. Nienaber (red.) Perspektief en Profiel, vyfde hersiene uitgawe. Johannesburg: Perskor.
Van Zyl, W.J. 1975. Die Afrikaanse volkspoësie met spesiale toespitsing op Boerneef se poësie, ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.
Vinkenoog, S. 1952. Atonaal. ‘sGravenhage: A.A.M. Stols.

Universiteit van Wes-Kaapland





NOTEN
  1. Zie Poëzie is kinderspel. [Noot van de bezorger]. ↩
  2. Die briefie word bewaar by die Van Wyk Louw-dokumente in die dokumentasiesentrum van die Gericke-biblioteek op Stellenbosch. ↩
  3. F.V. Lategan se Die kortverhaal en sy ontwikkeling in Afrikaans verskyn in 1954 met die voorkoms van ‘n standaardwerk oor die onderwerp. Oor Boerneef word daarin bevind dat sy verhale “tegnies (…) nie altyd aan die eise van die kortverhaal (voldoen) nie”. (1954:161). ↩
  4. Van der Merwe (1982: 153-155) gaan in op nog voorbeelde van die aard by Boerneef. ↩
  5. Uys Krige het wel met o.m. sy “Die meeu” (Krige 1985:81) gesorg dat dit nie so ongewoon in Afrikaans is nie. ↩

»

Reageren

U kunt deze HTML-tags gebruiken.

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>